Saturday, July 16, 2011

SO LYK DIE KARNAVAL!

Ek moes op my pos wees by River Art Route, maar het gou na die brass band in die tent gaan kyk, 'n draai by die stalletjies gemaak, en brood en melk gaan koop. As jy egter 'n goeie prentjie wil kry van alles wat vandag tydens die Bergrivier Kanomaraton en Bergrivier Winterkarnaval op sonnige Velddrif gebeur het, moet jy gaan kyk na Amanda Brink se foto's op facebook by
http://www.facebook.com/media/set/?set=a.106891312734817.14314.100002418469128


Hierdie is die snêppies wat ek geneem het:
Rustig onder die bome te midde van die feestelikheid, en net daarnaas...
...die Brass Band. Heerlike klanke.

"Jo-jo, the clown," het hy homself voorgestel. Hy was van diens af, op
soek na 'n koppie koffie. Ek like daai suit.
J.C. Frans, van Laaiplek, het die feestelikheid tot by Spar se deur gevat.
Sy kontaknommer is 078 233 4484.




DIE STOEP wink jou nader


Die Stoep staan reg vir jou by Voortrekkerweg 137 in Velddrif. Die tafeldoeke is uitgeskud, die stoele reggedraai... dis Bergrivier Winterkarnaval hier. Die 50ste Bergrivier Kanomaraton eindig vandag hier en Velddrif sorg vir vermaak vir almal wat deelnaam of wat kom kyk na die eindpoging - of wat nie dink iemand wat nou en dan in 'n kano aankom is interessant nie en sou kom kyk het as hier nog iets was om te doen.

Tuesday, July 12, 2011

SNUFFEL VELDDRIF SE LEKKER KUIERPLEKKE UIT

VELDDRIF. – Alles wat lekker is, gebeur nie net langs die rivier en by die amptelike karnaval-areas van die Bergrivier Winterkarnaval nie. Al wat leef en beef maak reg vir die makietie wat hierdie naweek die koue moet verdryf.

Uit die program weet ons daar is sop en soetes, musiek, kuns en waterpret, maar kyk maar uit vir die ander kuierplekkies op die dorp – soos Die Stoep, by Voortrekkerweg 137 aan Piketberg se kant van die brug.
Die Stoep, Voortrekkerweg 137.
Erna Greeff (Die Wit Olifant, tweedehandse ware), Sonja du Toit
(Plumbago koffiewinkel), Malanie Kotze (Engela Visser se Sonneblom en Salie
kwekery), Amanda Brink (Amanda's Photo Journeys),
en Marchand Kleynhans (Words tweedehandse boekwinkel).
In die agtergrond wend Kobus Brink wend 'n lagie vars verf aan
om die gebou so vrolik soos die gasvroue op Die Stoep te maak.

By hierdie winkelsentrum met sy kenmerkende dakkappies bo elke ingang kan jy alles uitsnuffel van Velddrif-poskaarte, braaihout, tweedehandse boeke, saailinge, koffie en koek, en tweedehandse ware en snuisterye.  

Sou jy links draai in die rigting van Laaiplek wanneer jy oor die brug kom, kan jy met hond en al verversings gaan geniet by Albatros Teetuin by Voortrekkerstraat 109. Hier kry jou hond water en ‘n beskuitjie sonder dat hy hoef te vra. Hy mag net nie ‘n happie van die hoenders en die eende op die erf vat nie!

In die welige tuin van hierdie120-jaar-oue vissershuisie kan jy aansit onder ‘n 60-jaar-oue bougainvilla, jou tuismaak onder die visserslapa, nader kuier op die agterstoep, of  koop en geniet in die geskenkwinkel. Dit is ook ‘n veilige hawe vir vegetariërs!

Albatros Teetuin, Voortrekkerweg 109.
Hier kry gaste inligting oor die dorp en streek, soos ook 'n entjie verder straat-af by die gewilde kitskosplekkie, Doepies Diner en Takeaways, waar die diens so vriendelik, die kos so goed en die plek so mooi is dat jy jou kos nie wil wegneem nie.

Ondernemings op Velddrif maak dit hul taak om inligting vir besoekers beskikbaar te stel.

Doepies Diner, Voortrekkerweg 113B.
Hier wys Transvalers die Weskus hoe maak
mens chups en vus.
Die nuwe kunsroete by Bokkomlaan, River Art Route, bestaan byvoorbeeld uit vier galerye, wat mekaar onderling bemark met die doel om ‘n besoek aan die dorp die moeite werd te maak vir die kunsliefhebber. Pamflette met inligting oor die roete sal by verskeie punte op die dorp beskikbaar wees. Een van die galerye is River Studio, van Marina Clunie, in Bokkomlaan. (Sien berig hieronder op tuisblad ("Home") vir meer inligting oor die karnavalprogram vir Bokkomlaan.)

Velddrif is ‘n dorp met baie kunstenaars en handwerkers. Een van die bymekaarkomplekke vir hierdie produktiewe klomp is by Classic Touch raamwerk- en handwerkwinkel, waar “Sewende Kerklaan” tydens die karnaval aangebied word. Namibiërs kan hier bymekaarkom om in die vreemde bande te smee.

Kuns verras jou orals. Die kwekery Sonneblom en Salie by Voortrekkerweg 137 hou byvoorbeeld ook kuns aan, so ook Albatros Teetuin by Voortrekkerweg 109; en in Pelikaanhawe (sien karnavalprogram) bied Nellie de Klerk se Artful Things ten alle tye ‘n groot seleksie van kuns aan, en meer as ooit werke word vir die duur van die karnaval hier tentoongestel.
Artful Things, Pelican Harbour.
This giant painting of Bokkom Avenue is one of the attractions at
Pelican Harbour centre. It was made over a period of one week by
 fourteen Velddrif artists, including Nellie de Klerk (in the picture)
 owner of Artful Things gallery and craft shop in the centre.
Sien nuus oor Susan Kemp se kuns by "Velddrif on the West Coast Coast", onder die Nosy Rosy-webtuiste se Weskusnuusblad (http://www.nosyrosy.co.za/our_areas/west_coast).


COMPUTER SERVICES:  Problem solving. Software installation. Data recovery. Conversion of video to DVD, tape and records to LP and CD. Contact Jaco 022-7830438 / 072-1591424

Monday, July 11, 2011

BOKKOMLAAN BIED KUNS EN KOS OP KARNAVAL

VELDDRIF. – Drie van Velddrif se bekende skilders en die dorp se nuwe spogproduk – skrootkunstenaars AntonnetteViljoen en James Bennett – neem van 14 tot 17 Julie deel aan die Bokkomlaan-program tydens die Bergrivier Winterkarnaval, wat saamval met die 50ste jaarlikse Bergrivier Kanomaraton.

Hierdie vier galerye het nou saamgespan om 'n kunsroete, die River Art Route, aan te bied en karnavalgaste sal van die eerstes wees om hierdie nuwe aantrekkingskrag van Velddrif te beproef. Die lekkerte van die roete is dat die hele Velddrif tog al langs die rivier af lê en dat alle kunstenaars op die lang duur by hierdie projek kan aansluit

Die werk van Marina Clunie, wyd bekend as die kunstenaar wat die hart en siel van die Weskus uitbeeld, is te sien by River Studio in Bokkomlaan, en Susan Kemp en Carolus Heydenrych by die twee ingange na Bokkomlaan gaan ook hul deure vir die publiek oopmaak. (Lees meer oor haar by http://anartthing.blogspot.com/2011/07/artist-depicts-spirit-and-soul-of-west.html).
Skildery van bokkoms, deur Marina Clunie.
Sien meer van haar werk by River Studio
in Bokkomlaan. Kyk ook op "Art"-bladsy
van hierdie blog.

Carolus het onlangs ‘n ateljee en galery ingerig in Vyelaan, waarlangs ‘n mens van Piketberg se kant af uit Voortrekkerweg na Bokkomlaan afdraai. Hy is ‘n individualistiese kusntenaar wat fokus op dramatiese seetonele in ongewone kleurskemas. Susan se ateljee is by haar huis, by Voortrekkerweg 146, amper reg by die ander ingang na Bokkomlaan as ‘n mens van die brug af uit die rigting van Kaapstad af kom. Haar werk dek ‘n wye spektrum wat wissel portrette en beeldhouwerk tot kopiërings van die Ou Meesters se werke.

Antonnette en James het hul aRt27 Galery vir hul skrootkunsprodukte verskuif van Pelikaanhawe na Voortrekkerweg 209, digby die Vyelaan-afdraai na Bokkomlaan, dus naby Carolus se plek.
Afvalmateriaal word veredel
tot kuns by aRt Galery,
Voortrekkerweg 209, Velddrif

Hulle het in Meimaand saam met die Kaapse Instituut vir Handwerk en Ontwerp (CCDI: Cape Craft & Design Instute) op die Decorex Kaapstad ontwerp- en binneversieringskou uitgestal. By hierdie geleentheid is hulle deur die Departement van Toerisme en Ekonomiese Ontwikkeling genader om die Weskusstreek in Oktober vanjaar by die “Too Good to Waste” ontwerpskou in München te verteenwoordig

By hierdie skou sal hul produkte, wat uit veredelde afvalmateriale gemaak word, tot hul reg kom – maar op Velddrif gaan ons dit eerste sien.

Bokkomlaan huisves tradisionele bokkomvishuise en ook Die Vishuis restaurant. Die nie-amptelike gasheer van hierdie laan is Des Clunie, met die alombekende snuisterywinkel, Ek & Djy Vissery, reg langs Marina se River Studio.

Des se kuierstoep by Ek & Djy sal – soos gewoonlik – die toneel van vissermanstories en die toonbeeld van Weskusgasvryheid wees. In Bokkomlaan sal karnavalgangers die Weskus se atmosfeer eerstehands kan ervaar en ook tradisionele versnaperings, soos bokkoms, by stalletjies by die rivier kan geniet.

Sien nuus oor Susan Kemp se kuns by "Velddrif on the West Coast", onder die Nosy Rosy-webtuiste se Weskusnuusblad (http://www.nosyrosy.co.za/our_areas/west_coast).

COMPUTER SERVICES:  Problem solving. Software installation. Data recovery. Conversion of video to DVD, tape and records to LP and CD. Contact Jaco 022-7830438 / 072-1591424