Monday, July 11, 2011

BOKKOMLAAN BIED KUNS EN KOS OP KARNAVAL

VELDDRIF. – Drie van Velddrif se bekende skilders en die dorp se nuwe spogproduk – skrootkunstenaars AntonnetteViljoen en James Bennett – neem van 14 tot 17 Julie deel aan die Bokkomlaan-program tydens die Bergrivier Winterkarnaval, wat saamval met die 50ste jaarlikse Bergrivier Kanomaraton.

Hierdie vier galerye het nou saamgespan om 'n kunsroete, die River Art Route, aan te bied en karnavalgaste sal van die eerstes wees om hierdie nuwe aantrekkingskrag van Velddrif te beproef. Die lekkerte van die roete is dat die hele Velddrif tog al langs die rivier af lê en dat alle kunstenaars op die lang duur by hierdie projek kan aansluit

Die werk van Marina Clunie, wyd bekend as die kunstenaar wat die hart en siel van die Weskus uitbeeld, is te sien by River Studio in Bokkomlaan, en Susan Kemp en Carolus Heydenrych by die twee ingange na Bokkomlaan gaan ook hul deure vir die publiek oopmaak. (Lees meer oor haar by http://anartthing.blogspot.com/2011/07/artist-depicts-spirit-and-soul-of-west.html).
Skildery van bokkoms, deur Marina Clunie.
Sien meer van haar werk by River Studio
in Bokkomlaan. Kyk ook op "Art"-bladsy
van hierdie blog.

Carolus het onlangs ‘n ateljee en galery ingerig in Vyelaan, waarlangs ‘n mens van Piketberg se kant af uit Voortrekkerweg na Bokkomlaan afdraai. Hy is ‘n individualistiese kusntenaar wat fokus op dramatiese seetonele in ongewone kleurskemas. Susan se ateljee is by haar huis, by Voortrekkerweg 146, amper reg by die ander ingang na Bokkomlaan as ‘n mens van die brug af uit die rigting van Kaapstad af kom. Haar werk dek ‘n wye spektrum wat wissel portrette en beeldhouwerk tot kopiërings van die Ou Meesters se werke.

Antonnette en James het hul aRt27 Galery vir hul skrootkunsprodukte verskuif van Pelikaanhawe na Voortrekkerweg 209, digby die Vyelaan-afdraai na Bokkomlaan, dus naby Carolus se plek.
Afvalmateriaal word veredel
tot kuns by aRt Galery,
Voortrekkerweg 209, Velddrif

Hulle het in Meimaand saam met die Kaapse Instituut vir Handwerk en Ontwerp (CCDI: Cape Craft & Design Instute) op die Decorex Kaapstad ontwerp- en binneversieringskou uitgestal. By hierdie geleentheid is hulle deur die Departement van Toerisme en Ekonomiese Ontwikkeling genader om die Weskusstreek in Oktober vanjaar by die “Too Good to Waste” ontwerpskou in München te verteenwoordig

By hierdie skou sal hul produkte, wat uit veredelde afvalmateriale gemaak word, tot hul reg kom – maar op Velddrif gaan ons dit eerste sien.

Bokkomlaan huisves tradisionele bokkomvishuise en ook Die Vishuis restaurant. Die nie-amptelike gasheer van hierdie laan is Des Clunie, met die alombekende snuisterywinkel, Ek & Djy Vissery, reg langs Marina se River Studio.

Des se kuierstoep by Ek & Djy sal – soos gewoonlik – die toneel van vissermanstories en die toonbeeld van Weskusgasvryheid wees. In Bokkomlaan sal karnavalgangers die Weskus se atmosfeer eerstehands kan ervaar en ook tradisionele versnaperings, soos bokkoms, by stalletjies by die rivier kan geniet.

Sien nuus oor Susan Kemp se kuns by "Velddrif on the West Coast", onder die Nosy Rosy-webtuiste se Weskusnuusblad (http://www.nosyrosy.co.za/our_areas/west_coast).

COMPUTER SERVICES:  Problem solving. Software installation. Data recovery. Conversion of video to DVD, tape and records to LP and CD. Contact Jaco 022-7830438 / 072-1591424
 

No comments:

Post a Comment