As jy Prof Danie Schreuder se bydrae tot die mense in sy lewe, die samelewing en uiteindelik tot die wêreld en die toekoms kan meet, kan jy moontlik die omvang van die verlies wat sy dood meegebring het, bepaal. (Maak 'n punt daarvan om ook die huldeblyk van Fourie Rossouw te lees. Sien die skakel na sy blog hieronder by "Comments"),
Prof Schreuder, opvoedkundige, omgewingsbewaarder en -aktivis en skrywer, is Maandagaand, 21 Maart, om halftwaalf by sy huis in Waterkantstraat, Velddrif, op die ouderdom van 67 aan ‘n hartaanval oorlede.
Hy het verlede week by die 21ste herdenking van OOPUS, die Omgewingsopvoedingsprogram wat hy by Universiteit Stellenbosch gestig het, gesê die waarde van die werk wat OOPUS doen, kan nie gemeet word nie. Nou weerklink sy stelling in die woorde van die mense wat hy nalaat.
Sprekers by die geleentheid het nie slegs gepraat van Prof. Schreuder se impak op hul studies en hul loopbane in opvoeding en omgewingsbewaring nie, maar ook van die verrykende – en verreikende – bydraes wat hy as mens en opvoeder tot hul loopbane en hul lewens gemaak het. Nou staan hul woorde opgeteken as laaste huldeblyke wat hulle onwetend aan hul mentor gebring het.
Prof. Chris Reddy, bestuurder van OOPUS sedert Prof Schreuder se aftrede, sê hy streef daana om die oorspronklike doelwitte van die program deur middel van navorsing en gemeenskapsinteraksie voort te sit.
Op die tuisfront is die verlies vir Velddrif groot. Prof. Schreuder was betrokke nou betrokke by bewaringsake op die dorp en was tot onlangs die voorsitter van die Bergrivier Forum.
Die dorp het ‘n paar druppels reën gehad op Wêreldwaterdag, die dag na sy dood. Op hierdie bewolkte, somber dag vertel vriende en familie egter van ‘n stralende mens wat hul lewens en die gemeenskap verryk het. Mnr Nic Mostert, wat die gesin ten tyde van sy dood bygestaan het, sê hy was “eintlik onbehoorlik gelukkig” hier op Velddrif.
Soos wat die nuus oor sy heengaan versprei, word dit duidelik dat die dorp ‘n beminde inwoner verloor het. Mev Ena During, wat onlangs sy boek, ‘n Beter Hemel, gelees het, het op daardie tydstip gesê dit was een van die beste boeke wat sy ooit gelees het. Sy onthou hom ook as ‘n “stralende” persoon. Mev Helena Pickard, ‘n vriendin en die weduwee van sy goeie vriend, Regter Bobby Pickard, was geskok om te verneem dat Prof Schreuder oorlede is gedurende die nag wat sy sy boek nie kon neersit nie en dit in die vroeë oggendure klaar gelees het.
Jy kan niemand gou-gou uitvra oor Danie nie (jy vergeet gou van die “professor”), want mense raak nie uitgepraat oor wat hy vir hulle beteken het nie en oor wat sy boek vir hulle beteken het nie. Dit is ‘n boek wat soos ‘n veldbrand versprei het en wat met humor en deernis wat eie aan Danie is, spreek tot kinders sowel as bejaardes, vertel Mev Karin Theart, een van die lede van die Pilatus-klas wat hy tweekeer ‘n week bygewoon het. Die boek is tot ‘n mate outbiografies, maar is simbolies van sy liefde vir die aarde.
‘n Beter Hemel is in 2009 deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Drie van sy kortverhale is opgeneem in versamelings van Hennie Aucamp (Borde, borde, boordevol: Tafelberg, 1998), en Abraham H de Vries (Uit die kontreie vandaan: Human en Rousseau, 2000).’n Reeks kort, populêre wetenskapartikels is van 1998 tot 2002 in Die Burger gepubliseer.
“Die Flixies”, ‘n reeks van 25 natuurwetenskap-fiksie stories van Danie, is onlangs by Ebony Uitgewers uitgegee as ‘n skool-leesreeks vir jong, ontwikkelende lesers. Sy suster, Annatjie, het hieraan met hom saamgewerk. Hy het ook bydraes gelewer vir dieselfde uitgewer se Afrikaanse kleutertydskrif “Bazoo”.
Daniël Rossouw Schreuder is ‘n op 8 Julie 1944 in die distrik van Koringberg gebore. Hy het grootgeword op die plase Middeldrift en Broodkraal. Na matriek het hy Natuurwetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch studeer, waarna hy hom in ’n onderwysloopbaan bevind het – aanvanklik by die Universiteit Wes-Kaapland en daarna vir vyf jaar as biologie-onderwyser. Sedert 1975 het hy egter sy nis as onderwyseropleier gevind, aanvanklik by die Wellington Onderwyserskollege en daarna by die US, waarna hy teen van 2005 as hoogleraar in omgewingsopvoeding aan die US afgetree het en hom op Velddrif kom vestig het.
Hy laat sy vrou, Mirna, met wie hy 42 jaar getroud was, na; sy kinders, Dirk, Marietjie Verster en Christine Quinn; kleinkinders Hannah, Klara, Lea, Eben en Christaan; susters Mariana Gerber en Annatjie Hanekom en broer, Dirk; en sy ma, Christine Smith (89).
Die verlies vir die gemeenskap is groot. Die verlies vir sy gesin en familie kan nie gemeet word nie.